Dissosiasie-Onderhoud
Die volgende onderhoude is gevoer met Emily (fiktiewe naam) wat gedissosieer het as gevolg van vroeë kindertrauma, wat haar pad na genesing met die Here voltooi het, en weer een geword het. Hierdie vrae en antwoorde mag jou help om ‘n dieper begrip te kry van ‘n voorbeeld van hoe dissosiasie werk in ‘n werklike, lewensvoorbeeld:
Onderhoud 1:
Onderhoud 1 – Om Dissosiasie te verduidelik
Hoeveel dele het jy?
Nadat al my gedissosieerde dele na vore gekom het, het ek 16 dele gehad. Vier van daardie 16 was sub-dele van Elsa, my empatie deel. Elsa was reeds van my gedissosieer toe sy hierdie vier sub-deeltjies van haarself geskei het. Hulle het emosies gedra wat te moeilik was vir Elsa om te dra. Dit was te veel vir haar en hulle het haar help dra aan die hartseer. Nadat die trauma klaar verwerk was het hulle onmiddellik terug in hulle plekke ingeskuif as deel van Elsa. Elke deel weet presies waar hulle hoort en waar hulle plek is volgens hoe ons Vader ons geskape het in die begin.
Nog twee deeltjies wat van myself gedissosieer was, was nog baie jong deeljies, en nie volle funksioneerende dele van my siel nie. Hulle het, nadat hulle die traumatiese inligting wat hulle vir my gedra het aan my gegee het om te verwerk, weer in hulle plekke inbeweeg en een geword met myself. Ek het dus nou net tien gedissosieerde dele oor, wat almal sterk funksionerende dele van myself is.
Verduidelik “Dissosiasie” vir ons, soos wat jy en jou dele dit beleef het.
My dele kan “uitkom” en gesels. Dit maak ons dus ‘n “Tipe B Dissosiasie.” In die geval van iemand met “Tipe A Dissosiasie” kan dele nie uitkom en hulleself voorstel nie. Hulle praat met die “Host” en die “Host” sê wat hulle sê. Niemand se binnekant werk presies dieselfde nie en dis belangrik om te onthou. In my geval is al my dele en ek self deurentyd presies bewus van wat aangaan. Almal hoor, sien en beleef die hele tyd wat in my lewe gebeur. Dit is baie keer nie so nie en dan kan net die een wat “uit” is beleef wat aangaan.
My dele kom baie sterk na vore wanneer hulle in ‘n spesifieke situasie nodig is en sonder om bewustelik daaraan te dink, sal ek, Emily, dan terugstaan sodat hulle hul rol kan vervul.
Mense wat met my te doen het kom dus vinnig agter dat ek heel anders voorkom en optree, afhangende van watter rol ek besig is om te vervul.
Hoe het jy besluit op die name vir jou dele?
Ek het nie op name vir hulle besluit nie. Hulle stel hulleself voor met name. Ek het geweet in elke deel se geval wat hulle naam is, want die naam het net baie duidelik na vore gekom in my gedagtes. Drie van my dele het hulle name erens deur hulle genesingsproses verander: een van hulle omdat haar naam ‘n baie negatiewe konnotasie het, en die ander twee omdat hulle manlike identiteite aangeneem het en terug na vroulike vorm wou verander. Al drie het baie beslis hulle eie veranderde name gekies. Ek het niks daarmee te doen gehad nie.
Hoe het jy jou dele gekry?
Omdat ek Tipe-B gedissosieer is, kon ek elke deel sien. Ek kan hulle baie duidelik in my sielsarea sien en weet presies hoe elkeen lyk. Sodra ek bereid was om met hulle kennis te maak, het ek elkeen eers gesien, dan hulle naam gekry en hoe oud hulle is. Daarna het hulle prentjies begin deurkom – gewoonlik eerste ‘n plek, waar die trauma wat hulle dra plaasgevind het, en daarna al hoe meer en meer detail tot ek die volledige traumatiese gebeurtenis ontvang het.
Om hierdie proses te begin moet jy ‘n wedergebore kind van God wees. Jy moet die proses van dissosiasie verstaan en glo. Elke mens weet dat iets verkeerd is met hulle maar hulle weet nie wat nie. Hulle weet gewoonlik dat hulle nie in die oorwinning leef waarvan die Woord praat nie.
Ons Vader is getrou en net soos Hy in sy Woord sê is daar ‘n tyd vir alles. (Prediker 3:1) So ook ‘n tyd vir elkeen se genesing.
Die oomblik toe ek die proses van dissosiasie mooi verstaan het, en ons begin werk het, het die Heilige Gees stukkie vir stukkie vir my gewys wat met my gebeur het. Hy het Sy lig op elke gedissosieerde deel geskyn en my gehelp met die proses om die traumatiese inligting te verwerk. Party van my inligting en dele het ek in beradingssessies gevind onder leiding van die Heilige Gees. Ek het met die ander dele in kontak gekom terwyl ek alleen gebid het en die Heilige Gees hulle aan my gewys het.
Sodra ‘n mens die proses mooi verstaan, kan jy dit heel maklik alleen doen. Indien die trauma egter te erg was, of jy nie seker is wat aangaan nie, is dit goed om ten minste in die begin dit nie alleen te probeeer aanpak nie.
Ons Vader het elke leuen wat deur die vyand in elke deel gevestig was geopenbaar en dit vervang met die waarheid. Ek het die sondes bely wat deur my en my voorouers gedoen is, wat aan die vyand wettige reg gegee het om my aan te val. Ek moes hulle wat my getraumatiseer het vergewe.
Ek kan nou in vryheid my pad as kind van God stap! Ek het nou die kennis om dadelik met trauma te deel wat ek dalk weer mag opdoen vorentoe in my lewe. Dit is absoluut onbekryflik wonderbaar!
Was jy nog altyd bewus van jou dele of was dit iets waarvan jy bewus geraak het nadat jy met berading begin het.
Ek het nie my dele “persoonlik” en goed geken soos wat ek nou doen nie, maar ek was van baie kleins af bewus van hulle. Ek was bewus daarvan dat daar meer as een faset in my kop teenwoordig is en dat hulle baie keer sterk verskil van my en selfs van mekaar. Ek het gereeld, soos wat ek my innerlike konflik verwoord het, gesê, ‘n deel van my voel so, maar ‘n ander deel van my voel só!”
Ek was dikwels bewus daarvan dat ‘n skuif plaasvind in my binnekant wat my in staat stel om die spesifieke situasie wat ek nou moet hanteer, beter te hanteer. Veral my uitbundige deel, “Belle”, my waaghalsige deel, “Sammy” en my werker deel, “Martha” het geweldig sterk na vore gekom en hulle ding kom doen.
Hoe het jy geweet dit is jou dele wat inligting deurgee en nie jou verbeelding nie?
Met die heel eerste deel, het ek nog nie geweet hoe dit gaan werk nie, ek het bloot gekies om die Here te vertrou. Ek was bekommerd daaroor, want ek het nog altyd ‘n geweldige sterk verbeelding gehad en kon soms in my eie verbeeldingswêreld lewe.
Toe die inligting omtrent my trauma begin deurkom het ek net geweet “This is real”! Hierdie is nie ék wat die goed uitdink nie. Toe ek my eerste deel, Ruth, ontmoet het, was dit die diepste seer wat ek nog ooit in my lewe belewe het. Die inligting wat sy deurgegee het, het ek so diep weggestoot dat ek dit glad nie kon onthou nie.
Soos wat haar inligting deurgekom het, en ek eers een plek en toe ‘n volgende gekry het, waar die trauma plaasgevind het, was dit onstettend duidelik. Ek was nog bitter klein toe daardie trauma gebeur het, net 4 jaar oud, maar die kleure, die teksture, die reuke en die gebeure het ek so sterk terug gekry, dit was asof ek dit op daardie oomblik weer beleef. Dit was ontsettend erg vir my, maar soos wat Elizha gesê het, kan ek waarlik getuig: jy het dit eenkeer oorleef, en jy sal dit nog hierdie eenkeer ook weer oorleef. Jy is nou ouer, en sterker en die Here is heeltyd by jou in die Gees.
Na die tyd toe ek my ouers daarvan vertel het, het my ma gevra waar dit gebeur het. Ek het die plek wat ek kon sien beskryf en sy het dadelik geweet watter kamer ek van praat.
Al die ander dele se trauma wat hulle gedra het kon ek onthou as ek daaraan dink en was ek bewus van, maar omdat ek op so jong ouderdom aan erge trauma blootgestel was, wat net eenvoudig onmoontlik is vir ‘n kind van 4 om te verwerk, en dus geleer het om te dissosieer en myself van daardie gebeurtenis te skei, het ek dit die res van my lewe verder maklik gedoen. Enige seer, of selfs diep ongemak, wat ek nie kans gesien het om te hanteer nie, het ek eenvouding gedissosieer. Dit is ‘n tydelike uitkoms, maar kom terug en byt jou later in jou lewe. Daardie onopgeloste trauma en emosies is nog daar in jou dele vasgevang en beinvloed jou besluite, jou aksies en jou gedrag.
Is dit vir jou die moeite werd om hierdie proses en al die pyn en ongemaklikheid van trauma hantering aan te pak?
Ja, ja en ja! Daar is pyn en ongemak, maar dit is niks teen die volkome vryheid en genesing wat mens kry nie. Om hierdie pad te kan stap is so ‘n groot geskenk en ek sal dit so graag vir almal wil gee!
Dink jy dit is belangrik dat mense hulle pad van genesing stap? Hoekom dink jy so?
Ek dink dit is so belangrik dat ek dit noodsaaklik sal noem. Ek wil duidelik maak dat ek nie dink ‘n mens se saligheid hang van jou genesingspad af nie, maar ek dink dit is ontsettend belangrik as gevolg van die volgende redes wat ek persoonlik in my eie siel ervaar:
- Die Here het ons gemaak om ‘n innerlike eenheid te wees met al die dele van ons siel in perfekte konneksie en samewerking om die uniekheid van ons persoonlikheid en vermoens uit te leef. Dissosiasie versteur ons funksionering en maak ons minder effektiewe mense.
- Ons sielsdele raak gedissosieer wanneer ons hulle wegskuif as gevolg van trauma wat ons nie kans sien om te hanteer nie. Daardie onopgeloste emosies bly ons woorde, ons aksies en ons optrede geweldig negatief beinvloed, vir die res van ons lewens. Dit kom net reg as ons bereid is om ons pad van genesing te stap.
- Sommige van ons dele veroorsaak meoeilikheid, selfs fisiese gevaar vir ons, wanneer hulle gedissosieer is. Hulle is goed en nodig, maar moet in samewerking met al ons ander dele wees om onder beheer te bly. Hierdie risikos bly ‘n werklikheid vir so lank as wat ons gedissosieer is. Die genesings pad wat ons stap los dit op.
- Op ‘n manier is elke gedissosieerde deel ‘n bietjie “te”. Te uitbundig, te waaghalsig, te taakgedrewe, afhangende van wat daardie deel se funksie is. Dit kom net perfek in balans wanneer alle dele een is binne in die plek en orde wat die Here vir hulle geskape het. Mens moet jou genesingspad entuit stap om daardie balans te verkry.
- As jy bereid is om jou genesingspad te stap leer jy jouself op so ‘n wonderbaarlike manier ken! En meer belangrik: jy leer jou Here en jou God ken op maniere waarvan jy nie eens kon droom nie. Hy ontmoet jou in soveel dieptes, raak jou aan, en maak jou heel. Jy is nooit weer dieselfde nie!
- En dan die belangrikste rede van almal: ons is God se tempel! Hy woon in ons. Sy tempel lê in puin en moet herbou word! My verantwoordelikheid as sy kind, is heel eerste om te sorg dat die dele van my siel wat “in puin” lê herstel moet word. Dit gebeur net as ek bereid is om my eie genesingspad volledig te stap.
Onderhoud 2:
Onderhoud 2 – Verdere Verduideliking oor Dissosiasie:
Gee ons asseblief ‘n bietjie ‘n agtergrond prentjie. Hoe het jy groot geword? Wanneer is jy weergebore en hoe was jou verhouding met God?
Ek het in ‘n baie liefdevolle, Christelike huis grootgeword. My ouers was altyd betrokke by bediening. Ek het 4 broers en susters. Christenskap was baie werklik en prakties. Ek het uitstekende verhoudings met beide my ouers gehad, was goed versorg en altyd onvoorwaardelik liefgehad en aanvaar. Ek het, volgens my ma, my hart vir Jesus gegee tussen 2 en ‘n half en 3. Met ander woorde, ek het geen bewuste herinnering sonder Jesus nie.
My verhouding met God was altyd werklik en lewendig, gekenmerk deur periodes van worstel met Hom, meer ontdek oor Hom, en dan weer worstel. Toe ek in my 30’s ingaan, het ek ‘n groeiende besef en bekommernis gehad dat ek oor tyd grond met God verloor het, eerder as om grond met Hom te wen. Daar was ook verskeie areas in my lewe waarin ek geweet het dat daar geen oorwinning was nie, maak nie saak wat ek gedoen het nie. Dit het my gedryf om hulp te soek.
‘n Mens mag dalk wonder, hoe is dissosiasie moontlik met so ‘n goddelike erfenis. Die vyand is ‘n meester skaakspeler en het die reg wat hy gehad het volgens wat my voorouers gedoen het gebruik. Hy het my ‘n verskriklike emosionele wond toegedoen toe ek 4 jaar oud was. So, op 4-jarige ouderdom het ek geleer hoe om ondraaglike situasies en emosies te dissosieer, en daarna was dit maklik om selfs net aanhoudende ongemak tydens my kinderjare te dissosieer, nog nie eens te praat van ondraaglike pyn nie. Ons het almal maar “issues”, maak nie saak hoe uitgesorteer en geseënd ons ook al op die oppervlak mag lyk nie.
Jy het nou eers redelik onlangs met jou genesingsproses begin en jou dele as sulks ontdek, of was jy eintlik vroeër al bewus van hulle? Verduidelik bietjie vir ons hoe jy voor jou ontdekking gefunksioneer het?
Ek was altyd bewus van die feit dat ek intern uit baie verskillende komponente bestaan en dat daar dikwels skerp verskille van mening en selfs konflik tussen hierdie dele is. Om sin te maak van hierdie konflik en al die verskeie kante van die interne argumente op te weeg, sou ek altyd skryf. Ek het nie besef dat my dele ook geskryf het nie. Hulle het geskryf soos hulle geleentheid gekry het, maar ek was nie bewus daarvan dat ek dele het wat argumenteer en skryf nie. So het hulle elkeen ‘n duidelike stem gehad deur my hele lewe.
Wat het jy gedink? Het jy gedink almal is maar soos wat jy is? (want ons het natuurlik nie eintlik ‘n benul van mekaar se innerlike wêreld nie né).
In ‘n sin, ja. Ek dink ons aanvaar almal ooreenkomste tussen onsself en ander. In ‘n ander sin, nee. My ma het my dikwels vertel dat ek baie ingewikkeld is en ek het verstaan dat die manier waarop ek funksioneer nie die norm is nie. Ek was altyd baie analities oor myself en ander, dus ek was bewus van universele ooreenkomste, maar ook duidelike verskille.
Jou dele kan nou heel maklik na vore kom en vir hulleself kommunikeer. Kon hulle dit vroeër ook doen (in terme daarvan dat jy agtergekom het jy verloor tyd of vind jouself op vreemde plakke)? Indien nie, hoekom nie?
Ek is nie bewus daarvan dat ek bewustelik tyd verloor het nie, so as ek dit gedoen het, was dit baie subtiel. Hulle is toegelaat om te domineer in verskeie situasies in my lewe waar die spesifieke eienskappe van ‘n spesifieke deel werklik nodig was. Mense het dikwels opgemerk hoe baie verskillend ek was in verskillende omstandighede en was geskok of verbaas oor die verskille.
My dele kon nie oorneem nie, net soos hulle oor die algemeen steeds nie kan oorneem nie, eenvoudig omdat ek, Emily, regtig sterk is met ‘n onwrikbare innerlike balans. Maak nie saak wat gebeur nie, ek het ‘n neiging om my innerlike stabiliteit te behou. Dit is die direkte genade van God en vrug van my opvoeding. My dele was eenvoudig nie sterk genoeg om Emily uit die pad te druk nie. As ek God nie geken het nie en nie hierdie innerlike stabiliteit gehad het nie, sou hulle maklik op enige tyd kon uitkom. Dit is nou nogsteeds so: Emily staan altyd reg langs wie ook al “uit” is en kan enige tyd met daardie deel plekke ruil en beheer neem.
Hoe voel jy oor een word met jou dele?
Aanvanklik het die gedagte my met hartseer en ‘n gevoel van verlies gevul. Dit is so ‘n wonderlike en kleurvolle ontdekking om werklik deeglik kennis te maak met elkeen van jou gedissosieerde dele. Dit het my met so ‘n diep gevoel van verwondering en ontsag gevul oor hoe God ons aanmekaar gesit het: “Vreeslik en wonderbaarlik gemaak” inderdaad, bo my wildste verbeelding!
Maar intussen het die Here my tot die insig gebring dat dit nie ‘n verlies sal wees nie. Dit sal ‘n fantastiese wins wees. Ons is almal in ons optimale toestand: beide funksioneel en emosioneel, wanneer ons een is. Niemand van hulle sal ‘verdwyn’ as sulks nie, en ek sal hulle teenwoordigheid steeds herken wanneer hulle domineer en na vore kom in die situasies wat hulle vermoëns vereis. So, ek wens nie die dae om totdat ons een is nie, maar ek voel ook nie die impuls om ons weer eenwording langer as ons ooreengekome datum uit te stel nie. Ek is nuuskierig om te sien hoe dit daarna sal wees, wanneer ons weer een is en dit sal interessant wees om dit op daardie manier te belewe.
Hoe werk die “switch” prakties met jou en jou dele?
My dele is almal “co-conscious” met my. Dit beteken dat almal van hulle te alle tye kan hoor en sien presies wat in ons lewe aangaan. Wanneer ons met jou praat, tannie, staan hulle almal hier in ‘n ry, want hulle is almal baie belangstellend. Net in geval dit vreemd lyk, het ek die gewoonte aangeleer
om net af te kyk terwyl ons dele “switch” en dan weer op te kyk sodra die volgende deel “uit” is.
Dit is egter nie nodig nie. As ek my dele toestemming gee om in ‘n gegewe situasie na willekeur te “switch” (soos wanneer ek met jou interaksie het), kan dit amper onmiddellik wees en jy mag net skielik veranderinge in toon van stem, uitdrukking en selfs aanspreekvorm opmerk. Woorde is oor die algemeen baie belangrik vir my, so baie van my dele gebruik spesifieke aanspreekvorms of liefkooswoorde wanneer hulle met ‘n geliefde praat. En hierdie terme verskil dikwels.
Wat maak jou dele wanneer hulle nie “uit” is nie en hoe lyk dit daar binne by julle?
In ons geval is my dele almal funksioneel. Hulle speel almal hul rolle in wat ook al in Emily se lewe op daardie oomblik gebeur. Dit beteken dat hoewel elkeen van hulle ‘n kamer het, hulle slegs daar is as hulle besig is met ‘n groot krisis, of slaap. My dele funksioneer reeds baie goed as ‘n span as hul onderskeie dele van die “Emily” wat God so uniek en wonderbaarlik aanmekaar gesit het.
Onderhoud 3:
Onderhoud 3 – Na “eenwording”:
Hoe het jy geweet julle is nou reg om een te word?
Wel eerstens, dit is ‘n saak van gebed. Ek het baie daaroor gebid en gevra dat Jesus ons reg sal lei. Tweedens, ek het baie met my dele gepraat. Elkeen van hulle het ingestem en was reg daarvoor. Ons het kort voordat ons een geword het ook weer gesit: ek en elke deel om die beurt, om net seker te maak daar is geen memories wat onverwerk is, wat ons nog saam met die Heilige Gees moes deurwerk en verwerk nie. Mens kan altyd na die eenwording steeds met emosies en memories werk, maar dit is makliker om by die inligting uit te kom as mens met jou dele direk kan kommunikeer.
Dit alles was mooi in plek, met die innerlike wete dat dit nou tyd is en dat ons almal reg is en dat die Here se “Gaan voort, Ek is by jou.” Daar was by my en my dele geen twyfel oor ons eenwording nie.
Hoe het dit vir jou gevoel net voordat julle een geword het?
Sjoe, dit was ‘n moeilike tyd vir my! Ek praat nou van letterlik net die dag voordat ons een geword het. Ek het so ‘n mooi verhouding met my dele gehad, en was so gewoond aan die innerlike gesprekvoering. Ek het gevoel asof ek hulle verskriklik gaan mis. Asof dit my heel naaste maats was wat ek nou gaan verloor. Nie verloor in die sin dat hulle verdwyn in die niet in nie, maar verloor in terme daarvan dat ek nie meer met hulle sal kan gesels en hulle sal kan sien nie. Ek het so gehuil, en toe vrede daarmee gemaak, en toe gaan ons voort met die eenword.
Het jy enige iets beleef met die eenword self? Met ander woorde, het jy onmiddellik geweet dat jy en jou dele nou een is?
Ek het nie enige fisiese iets gevoel nie, maar ek het onmiddellik ‘n prentjie gekry, wat drie van my dele eintlik vroeër al vir my gegee het, toe ek die eerste keer bietjie gestoei het met die gedagte dat ek hulle gaan verloor, so paar weke voordat ons een geword het. Dit was ‘n prentjie van die ratte van ‘n ratkas, op ‘n propshaft wat mooi reg en klaar aanmekaar gesit is nadat dit herstel is, en mooi vas in plek in “click” in die “casing” van die ratkas. Vir my is dit ‘n baie sprekende prentjie omdat my pa ‘n motor werktuigkundige is en ek baie ure saam met hom deurgebring het as sy “spanner girl” en presies verstaan het wat dit kos om tot op daardie punt van die proses te kom en hoe reg en wonderlik dit is.
Verder was daar die vrede van God wat alle verstand te bowe gegaan het wat oor my neergedaal het. Al die trane was weg en daar was ‘n rustigheid in my.
Wat moes jy doen om dit reg te kry – dat jou dele weer een word met jou?
Die voorbereiding moet gedoen wees, met ander woorde, al die inligting wat my dele vir my gedra het moes ek verwerk. Verder is dit die Here se werk. Dit is Hy wat ons siele so wonderbaarlik gemaak het. Dit is Hy wat die moontlikheid van dissosiasie in ons ingebou het, sodat ons kan aangaan met ons lewens ten spyte van die stukkend en seer van leef in ‘n gevalle wêreld. Dit is ook Hy wat ons weer aan mekaar sit, wanneer ons genesingspad gestap is.
Dit was so eenvoudig soos ‘n kort gebed en ons Vader vra om elke deel terug in hulle plek te sit. Daarna het die eenword spontaan gebeur.
Jy en jou dele het in die aand eengeword. Wat was jou onmiddellike belewenis die volgende oggend toe jy wakker word in hierdie nuwe toestand van een wees?
Ek het daardie oggend baie vroeg wakker geword onthou ek, stiltetyd gehou en met Jesus gepraat. Ek het toe ‘n gedig geskryf oor wat ek toe ervaar het. Ek het my hele lewe lank nog wanneer ookal ek iets beleef wat my binnekant diep roer het dit nog altyd uiting gekry in my gedigte. Om die vraag te beantwoord gaan ek dus net die gedig lees. Dit is net die heel akkuraatste antwoord:
The Silence
(After becoming one)
What shall I say now
In this large inner silence?
The beautiful, light-washed room
All filled with vibrating, intense life
The ten known and beloved parts of me
All gone now – gone from my sight.
And it is so quiet. So still.
No changing moods, happy banter
Sharp retorts, or profound advice.
Just me alone, a stranger to myself.
It is so strange – this unknown aloneness.
This silence that has a mood all its own
A mood of rest, rightness, oughtness.
With the still soft voice of God clearly audible.
And yet, I catch the sounds of their dear voices –
We’re here love! We’re here.
We are you, dear old silly!
How can we ever be gone?
This I know full well, but for now:
The overwhelming silence.
To grow accustomed to
Like a whole new world to live in.
And I feel so small and so old.
I want to reach out and touch you.
I want to hold your dear faces
Put my forehead against yours
And not be alone in this stillness.
That is wholly good, yet so very strange.
Was daar enige ander uitdagings wat jy ervaar het?
Daar was ja! Ek onthou so paar dae nadat ons een geword het, het ek ‘n ongemaklike dag beleef. Dit was niks ernstig nie; dit het net heelwat doodgewone irritasie, frustrasie en ‘n hartseer faktor ingesluit. Aan die einde van daardie dag het ek besef dat ek nooit in die verlede eintlik kwaad geword het nie, of minstens bitter, bitter selde. Maar dit was nie eintlik omdat ek nie kwaad geword het nie. Dit is omdat ek niks van die emosie van kwaad hou nie en dit altyd dadelik net op my dele afgeskuif het. Ek was dus mooi rustig, omdat my dele die kwaad gedra het. Dit was maar dieselfde met hartseer. Enige diep hart pyn het ek bitter vinnig gedissosieer, in pleks van voel, hanteer, en verwerk.
Die uitdaging hier was vir my om te voel hoe dit voel om al my eie negatiewe emosies self te dra, en nie te kan weggee nie. Wat ‘n ontnugtering was dit nie!
Kan jy vir ons beskryf hoe jou innerlike wereld en jou algemene funksionering nou anders is?
Ja graag! Hierdie is beslis ‘n ontsettende belangrike vraag. Ek hoop ek kan dit vasvang in woorde, want ek wil so graag hê dit moet baie duidelik wees dat die vrug weer en weer en weer die moeite werd is! Stap jou genesings paadjie – it is so worth it!
In my gedissosieerde toestand was ek steeds mooi gebalanseerd en hoogs funksioneel. Dit is omdat ek ‘n baie geseënde, goddelike erfenis in my ouerhuis en grootword gehad het. Dit is net die hand van God se genade oor my. ‘n Bydraende faktor was ook omdat ek en my dele altyd “co-conscious” was. Daar was dus nooit “chaos”, vreemdheid of diskontinuteit nie. Die oorgang van een deel na die ander was altyd mooi glad en vinnig. Niks was ooit buite beheer nie. Emily was altyd die sterkste en die dele het gehelp. Al my dele was sterk funksioneel en samewerkend en ‘n span. So uiterlik het dit nog altyd gelyk asof Emily ‘n uitgesorteerde staatmaker is.
Wat ander glad nie kon sien nie, is dat dit altyd heeltemal te besig was in Emily se binnekant. Daar was al hierdie gesprekke – heeltyd. Daar was gereeld ‘n gestryery en ‘n geskerts Daar was dikwels meer as een sterk emosie, en heel gereeld was die emosies teenstrydig met mekaar. Wanneer die emosies van verskillende dele hoog geloop het, was dit amper soos oorlog, en dit het my so diep ongelukkig gemaak.
Op tye wanneer enige van my dele na vore getree het en hulle rol vervul het, was hulle altyd bietjie “te”. Te uitbundig, te gefokus, te nadekend, te waaghalsig, te empatiek, wat dit ookal mag wees. Dit is eintlik erg ongemaklik. Ons Vader het ons juis ‘n eenheid gemaak sodat daar heeltyd ‘n natuurlike balans is, waar ons dele mekaar mooi aanvul en in harmonie saamwerk en by mekaar aanpas wat alles sagter maak.
My dele het mooi sterk gestaan en elkeen hulle deel gedoen, maar dit is te “skerp” amper. Hulle is te skerp gedefinieer as hulle gedissosieerd hulle rol moet vervul. Dit hoort nie so nie, al maak ons dit werk.
Na my eenword, het die heeltyd se gepraat in my binnekant stil geraak. Dit is ongelooflik anders. Daar is so ‘n rustigheid wat so reg is, in die plek daarvan. Dit is makliker om duidelik te dink, makliker om God se stem te hoor.
Ek het ‘n neiging gehad om verkillende take gelyk te doen, ‘n stuk van een werk te doen, te los, ‘n ander te begin, selfs ‘n derde taak, of meer. Soms is dit onvermydelik, veral as mens ‘n mamma van klein kindertjies is, maar in baie gevalle was dit omdat my dele op verskillnde aspekte gefokus het, en verskillende take wou doen, so dit was ‘n heen en weer trek tussen wat elkeen wou doen. Dit is nou heel weg! Met ander woorde, ek het baie beter fokus.
My algemene funksionering is net sagter, meer gebalanseerd. Al die te skerp kante is nou weg en mooi perfek in die eenheid gebalanseer. Ek voel al my eie emosies mooi duidelik; hulle is nie teenstrydig nie en ek kan met bewustheid daarvolgens optree. As ek kwaad word, is dit duidelik, en ek kan voel ek is kwaad en kan vir Jesus vra om my te help. As ek bly is, is ek steeds diep bly, maar dit is net meer volwasse, dieper.
Vir my is die verskil so onuitspreeklik kosbaar! Ons hoort so – ongedissosieerd Ek word nie meer emosioneel van balans gestamp nie, al slaan die lewe se storms en golwe soms woes. Daar is geen “triggers” wat uit die bloute my hart se balans omkrap en diep onverklaarbare emosies aanwakker wat dan lei tot kompulsiewe of onlogiese gedrag en aksies nie. Emosies vloei reg en kan hanteer word. Ek is meer volwasse, wyser, rustiger. Truly, it is well with my soul. Dankie Jesus!
Hoe het jou eenwording spesifiek jou verhouding met die Here en jou wandel met Hom beinvloed?
Hierdie aspek van heelwees is die diepste en kosbaarste van alles en maak dit so absoluut die moeite werd om ‘n mens se genesingspad te stap, of as mens dit anders kan stel, om die dele van jou siel wat in puin lê te hebou.
Die eerste verskil lê vir my in Bybel lees. Ek het nog altyd maar my Bybel gelees – selfs in my donkerste jare. Al was dit soms net ‘n eenvoudige innerlike erkenning dat dit nodig is, en in my eie belang om dit wel te lees. Nou is God se Woord so lewendig! Dit praat met my hart soos nog nooit tevore nie. Daar is openheid van gees en verstand wanneer ek dit lees en ‘n diep honger om dit te deursoek – soos in die brandende ywer van my eerste liefde. Daar is daardie indrink van die Woord, en dit waarlik hoor en verstaan. Wat ‘n geskenk!
Tweedens, dieper nog as die verlange en behoefte om met my naby geliefdes in kontak te wees, is die verlange en smagtig na God, wat net eenvoudig nie opsy geskuif kan word nie. Hoe soet is die gemeenskap nie en hoe vol word my hart nie wanneer ek voor Hom sit nie. Watter diepe liefde en aanbidding en tevredenheid is daar nie wanneer ek voor Hom sit nie. Dit voel of ek hierdie belewenis nie regtig kan uitspreek nie.
Iets van hierdie gemeenskap en toewyding het ek ervaar in my vurige vroeë twintigs, maar dit was nooit so ryk soos nou nie. Sommige van my dele was steeds in vyandskap met God maar nou het ek ‘n hart wat onverdeeld op Hom gerig is en Hom dieper en dieper liefhet.
Derdens: Ek het dikwels doelbewus en selfs roekeloos gesondig. Dit het my geweldig baie al gepla en ek het gestoei met die vraag: “hoekom gee ek nie om nie”? Hoekom, al ken ek reg en verkeerd en die gevolge van albei so goed, kies ek steeds keer op keer om te sondig?
As deel van my genesingsproses het ek besef dat die oorspong van daardie doelbewuste en selfs komplusiewe keuses om sonde te doen, was te vinde in my gedissosieerde dele. Nou, in ons eenwees en heelhartige toewyding aan God, vind ek dat dit weg is! Ek dink vir geen oomblik dat ek nooit weer sal sondig nie. Die Bybel maak dit baie duidelik dat dit onvermydelik deel van ons vleeslike natuur is, maar nie meer sal dit daardie berekende minagting van God se gebooie wees wat einlik sy kosbare bloed vertrap en sy genade goedkoop ag nie. Nou gee ek geweldig om oor wat vir Hom saak maak en uit liefde vir Hom wil ek sy gebooie gehoorsaam. Skielik maak dit alles persoonlik sin – omdat my hart verander is – onverdeeld op Hom gerig is as Sy tempel om in te woon.
Dit is ‘n fantastiese voorreg om weer een te wees. Dit is baie makliker om in hierdie toestand so te lewe dat my lig helder skyn vir Jesus die Redder van ons siele! Aan Hom kom toe al die eer vir my herstelde siel.
Kontak ons vandag vir boek bestellings
Ons het n reeks boeke beskikbaar en DVD’s op bestelling. Dit kan nou gedoen word van af ons web tuiste.