Elizha Bediening

Brief aan die fasette

28 October 2026Afrikaans

Beste Faset,

Jy wat hier lees en verstaan wat aangaan, maar nie weet wat jou te doen staan nie – vir jou wil ek sê dat God lief is vir jou en dat Hy jou met ‘n doel geskep het. Jy het ‘n belangrike taak gehad tot nou.

Ek weet jy glo dat jy jou “gasheer” moet beskerm. (Die “gasheer” is die kerndeel van julle persoonlikheid, dié een wat al die traumatiese inligting na julle gekanaliseer het omdat dit vir hom/haar te erg was om op daardie ouderdom te hanteer.) Vandag wil ek vir jou sê dat jy nie meer nodig het om die “gasheer” te beskerm nie.

Wanneer jy vir Jesus as jou Verlosser en Saligmaker aanneem, word Hy julle beskermer. Jesus wil hê dat jy die inligting wat jy moes help dra, en wat te veel was vir die “gasheer” nou aan die “gasheer” sal teruggee. Hy/Sy is nou oud genoeg om dit te verwerk.
Omdat jy nou verstaan wat aangaan en weet dat jy ‘n faset is (“een skyfie van die lemoen”), wil ek jou aanraai om saam te werk en aan die “gasheer” te sê dat jy daar is. Jy hoef nie vir die “gasheer” te wag om vir Jesus aan te neem nie.

Daar is ‘n bekeringsgebed hier op faceboek by my vorige plasings. Bid dit as jy weet dat jy vir God wil dien. Jy kan as een van die fasette vir Jesus aanneem. Die ander kan jou volg soos hulle gereed is.

Jy het net soveel verantwoordelikheid vir die redding van julle siel as al die ander fasette of “skyfies van die lemoen” Sodra jy vir Jesus aangeneem het, kan jy vir al die ander skyfies begin bid. Jy kan die ander skyfies waarvan jy weet ook vra om vir Jesus aan te neem. So raak julle almal net sterker.

Trek die “gasheer” se aandag en probeer om met hom/haar te praat. Maak seker dat hy/sy die boek lees. God sal julle help om almal ín Christus te kom. Wees verseker dat jy ‘n baie belangrike rol speel en dat jy vir ‘n besondere rede hierdie inligting onder oë kry.

Dit maak nie saak of jy dalk in die okkulte betrokke is nie; weet net dat die vyand die gawes wat God vir jou gegee het, misbruik. Kom veg aan die regte kant en kom oor na die regte weermag.

Lê al die “kragte” (wapens van die geesteswêreld) wat jy van die vyand ontvang het neer en laat jou “spirit guide” (die gees wat jou in die geesteswêreld moes oplei) gaan. Dit is nie nodig om al daardie “range” te hê nie. Die Heilige Gees sal jou gids wees as jy Hom vra. Wanneer jy vir Jesus aanneem, kry jy mag oor al die mag van die vyand.

Spreuke 18:10 “Die naam van die Here is ‘n sterk toring; die regverdige hardloop daarin en word beskut”.

Jesus het àlles wat nodig is aan die kruis gedoen sodat àlmal gered kan word –ook elke “skyfie” van elke “lemoen”.

Aan jou wat al die woede dra, wil ek sê: Jy is nie dit wat in daardie pakkie is wat jy moet dra nie. Wanneer jy die pakkie vir Jesus gee (die traumatiese herinnering) en Hy jou van daardie woede stroop, sal jy verbaas wees om te sien wie jy werkilik is. Jy sal sien hoeveel leuens die vyand aan jou vertel het en hoe hy jou identiteit gesteel het sodat jy nie kan weet wie jy in Christus is nie.

Jy is heel waarskynlik een van die sterker fasette wat deur God geskape is juis om konflik te hanteer. Hy sal jou leer hoe om dit op die regte manier te doen sodra jy die emosies teruggegee het aan die host sodat jy/sy dit kan verwerk.

Kom buig jou/julle knie voor Jesus en Hy sal jou/julle help om in oorwinning te leef en in Sy Volheid te kom!

En… beste van alles om die ewige lewe te kan ingaan waar daar nie meer trane is nie.

Baie sterkte en onthou – God weet van jou en Hy kannie wag dat jy jou lewe aan Hom oorgee nie. Hy het jou immers gekoop met Sy bloed.

Mag ons Vader jou help om die waarheid te sien.

Elizha.

← All posts